Pushing the envelope with trendsetting ideas

Pushing the envelope with trendsetting ideas
Elsje Designs creates fun & functional gifts, stationery and table decor with a true South African touch

THE BUZZ

Stay in the know

with our latest designs, special offers and inspirational ideas.

If you want to receive regular eye candy, subscribe to our blog!

Wednesday, June 2, 2010

In today's newspaper....


Kunsvlyt: Maak só geld uit jou stokperdjie

2010-06-01 22:16

Dit verg deeglike beplanning en hope passie om ’n onderneming van ’n kunsvlytstokperdjie te maak. Riëtte Grobler het by ’n paar suksesvolle entrepreneurs wenke gekry oor dinge wat jy in gedagte moet hou wanneer jy so ’n projek wil aanpak.

WENK 1: WEES UITERS PASSIEVOL
’n Passie vir jou stokperdjie wat alles oorweldig, is nodig voordat jy eers daaraan begin dink om ’n onderneming daarvan te maak, sê Elsje van der Merwe.
Sy bedryf die suksesvolle skryfbehoefte-onderneming Elsje Designs in Durbanville, Kaapstad.

“Ek was bevoorreg om ’n vriendin se troukaartjies te ontwerp en daarvandaan het dit soos ’n sneeubal aangegroei tot waar Elsje Designs vandag is,” vertel sy.

Deesdae ontwerp sy en haar span alles van trou-skryfbehoeftes tot sakekaartjies vir klante van Suid-Afrika tot oorsee.
“As jy regtig jou stokperdjie so baie geniet dat jy saans nie wil gaan slaap nie en soggens nie kan wag om op te staan nie, het jy beslis die regte grondslag,” sê sy.

Die Kapenaar Carole Nevin het 17 jaar gelede tekstiele in haar motorhuis begin verf en verkoop en het ’n soortgelyke filosofie.

“Ek wou ’n inkomste genereer uit iets kreatiefs en bydra tot die verligting van armoede,” sê sy.

“Ek is gedryf deur ’n oorweldigende passie. Dit móés eenvoudig werk.”

Dit het ook, want deesdae bedryf sy ’n florerende tekstielbedryf, Carole Nevin Designs ,met 45 werknemers in diens.

WENK 2: TREF DIE KOL
In Maak geld met jou handwerk (Metz Press) beskryf Jeni Halliday die produk as die belangrikste element van jou onderneming.

Kom daarom met splinternuwe idees vorendag as jy van jou kunsvlytstokperdjie ’n onderneming wil maak, sê Van der Merwe.

“Jy móét iets unieks doen. Probeer werklik uit die boks dink, selfs al vat jy iets alledaags en sit net jou unieke stempel daarop.”

Nevin meen die meeste kunsvlyt- entrepreneurs begin deur ’n produk te maak waarvan hulle hou.

“Jy moet egter aanpasbaar wees en luister na wat jou klante wil hê,” sê sy. “Soms wil hulle iets by jou bestel waaraan jy nog nie eens gedink het nie. Dis ’n geleentheid om jouself oop te maak vir nuwe idees en uit te brei.”

Moet kritiek ook nie kop toe vat nie. “Gebruik dit eerder om jou produk te verbeter,” sê sy.

Buigbaarheid wat materiale en die ekonomiese klimaat betref, is ook belangrik, meen sy.

WENK 3: VERSIGTIG MET GELDSAKE
“Moet aanvanklik nie te veel geld in die onderneming belê nie,” waarsku Van der Merwe. “Begin klein en brei geleidelik uit soos die onderneming groei. Hou jou geldsake met ’n arendsoog dop. Vra byvoorbeeld ’n 50%-deposito as iemand bestellings plaas.”

Lisa Bragge bedryf die afgelope agt jaar die Lisa B-kunsateljee vanuit haar huis in Weltevredenpark, Johannesburg. Sy bied klasse in allerlei kunsvlytvorms en doen veral mosaïek-opdragwerk.

“Sorg dat jy strokies van ál jou uitgawes hou en moenie presies soveel uitgee as wat jy verdien nie,” sê sy. “Stel ’n boekhouer aan as jy níks weet van geldsake nie.”

Wees ook daarvan bewus dat tyd geld kan beteken, sê Van der Merwe.

“Die fout wat kreatiewe mense maklik maak, is om te veel tyd aan die artikel te bestee en gevolglik nie hul koste te verhaal nie.”

WENK 4: VERSPREI DIE WOORD
Hoewel bemarking baie belangrik is, moet jy versigtig wees wat advertensies betref.

“Advertensies is ontsettend duur en dikwels nie die moeite werd nie. Dit was mý dure ervaring,” sê Van der Merwe. “Kyk of jy nie eerder jou onderneming van die grond kan kry deur word of mouth nie.

“Maak maar aanvanklik ’n paar gratis geskenkies vir mense en vra of hulle nie ’n paar verwysings vir jou sal doen nie,” stel sy voor. “Die beste advertensie is gelukkige klante.”

Bragge sê sy adverteer in skoolnuusbriewe en het die Lisa B-kenteken op haar motor laat aanbring. ’n Webwerf is ook nuttig, meen sy.

Marietjie Beeslaar, die baasbrein agter Skermunkil-juwele, het haar juwele aanvanklik veral op kunsmarkte verkoop.

Sy sê dit is ’n goeie idee om by sulke markte jou sakekaartjie uit te deel en belangstellendes se kontakbesonderhede te neem.

WENK 5: KEN JOU MARK
Beeslaar sê dit is belangrik om die regte mark vir jou produk te kry.

“Vind uit watter soort mense sal van jou kuns hou en sorg dat jy dit by hulle kry,” sê sy.

“Ek het al my werk in baie winkels uitgestal. In sommige verkoop dit nie; in ander verkoop dit weer baie goed. Dis moeilik om dit dadelik reg te kry, so ek stel voor jy probeer baie verskillende winkels in jou omgewing.”

Om jou ware op kunsmarkte uit te stal is ook ’n goeie idee, meen Beeslaar, wat sê haar betrokkenheid by die Biscuit Mill Neigh­bour­hood Market in Woodstock, Kaapstad, het haar ongetwyfeld ’n hupstoot gegee.

“Daar kom jy direk in kontak met jou ondersteuners. Dit is belangrik om te weet wie van jou werk hou.”

WENK 6: HOU DIT HANTEERBAAR
Goeie tydbestuur is ontsaglik belangrik as jy werk met klante en bestellings, meen Van der Merwe.

“Wees realisties en moenie wegspring en te veel wil aanpak nie.

“Begin eerder met klein, hanteerbare bestellings, maar sorg dat jy dit deeglik, netjies en betyds afhandel,” sê sy.

No comments: